Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 22:11-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Toe die ander Israeliete hoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar by Gelilot aan hulle kant in Kanaän opgerig het,

12. het hulle by Silo saamgetrek om oorlog teen die twee en ’n half stamme te gaan maak.

13. Die Israeliete het vir Pinehas, die seun van die priester Eleasar, na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur.

14. Tien leiers wat elkeen hoof was van ’n Israelitiese familiegroep, en die tien ander stamme verteenwoordig het, het Pinehas vergesel.

15. Hulle het by die stamme Ruben, Gad en die halwe Manassestam in Gilead aangekom en vir hulle gesê:

16. “Die volksvergadering van die Here wil by julle hoor hoekom julle so ontrou is aan die God van Israel. Julle het julle rug op die Here gedraai toe julle die altaar gebou het! Julle is mos nou in opstand teen Hom!

17. Was ons oortreding by Peor nie groot genoeg nie? Ons het tot vandag toe nog nie die smet daarvan afgeskud nie, selfs al het die Here die gemeenskap daarvoor gestraf.

18. Julle is nou besig om van Hom af weg te dwaal. Julle kom vandag in opstand teen Hom en net môre is Hy woedend teen ons almal in die gemeenskap van Israel.

19. As julle grond dan besoedel is, moet julle liewer oorkom na die Here se gebied waar die Here in sy tabernakel woon. Kry liewer grond tussen ons, maar moenie in verset kom teen die Here of ons deel maak van julle verset deur ’n ander altaar vir julleself te bou nie. Daar is net een altaar van die Here ons God.

Lees volledige hoofstuk Josua 22