Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 17:10-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Die deel aan die suidekant van die spruit het dus aan Efraim behoort en dié aan die noordekant aan Manasse. Manasse se gebied loop tot teen die Middellandse See. Die gebied noord van Manasse het aan Aser behoort en die gebied oos van Manasse aan Issaskar.

11. Die volgende dorpe in die gebiede van Issaskar en Aser is vir Manasse gegee: Bet-San, Jibleam, Dor op die bergrug, En-Dor, Taänak en Megiddo met hulle dorpies rondom.

12. Die mense van Manasse kon nooit hierdie dorpe oorneem nie. Die Kanaäniete het altyd daar bly woon.

13. Toe die Israeliete later sterker geword het, het hulle die Kanaäniete gedwing om vir hulle te werk. Hulle kon egter nooit die dorpe inneem nie.

14. Die afstammelinge van Josef het vir Josua gaan vra: “Waarom loot u vir ons net een stuk grond? Ons is baie mense, want die Here het ons met baie mense geseën.”

15. Josua het vir hulle gesê: “As julle dan te veel is vir die grond in Efraim, gaan op na die gebied van die Feresiete en die Refaïete en gaan kap vir julle daar ’n plek oop in die bosse.”

16. Hulle het vir Josua gesê: “Die heuwels is nie groot genoeg vir ons nie. Al die Kanaäniete wat in die vallei woon en in die gebied rondom Bet-San en op die Jisreëlvlakte is sterker as ons, want hulle het ysterstrydwaens.”

17. Josua het toe vir die nageslag van Josef, vir Efraim en Manasse, gesê: “Omdat julle so baie en so sterk is, sal ons met die lot vir julle meer as een deel aanwys.

18. Julle kan die beboste heuwelgebied ook kry. Maak dit skoon sodat julle daar kan woon. Die Kanaäniete het wel ysterstrydwaens en hulle is sterk. Julle is egter sterk genoeg om hulle uit te dryf.”

Lees volledige hoofstuk Josua 17