Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 8:17-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Ek wil wag op die Here, alhoewel Hy weggedraai het van die mense van Israel.My enigste hoop is op Hom.

18. Ek en die kinders wat die Here my gegee het, het name wat die planne van die Here, die Almagtige, wat op Sionsberg woon, vir sy volk openbaar.

19. Hoekom probeer julle dan om uit te vind wat die toekoms inhou deur mediums en spiritiste te raadpleeg? Moenie na hulle gefluister en gemompel luister nie. Kan die lewendes by die dooies hoor wat die toekoms inhou? Hoekom vra jy nie eerder jou God nie?

20. Gaan terug na wat die Here gesê en beveel het! As julle julle nie daaraan steur nie, is daar geen toekoms vir julle nie.

21. My volk sal as gevangenes weggelei word. Hulle sal moeg en honger wees. En omdat hulle honger is, sal hulle hulle vuis teen die hemel oplig en hulle koning en hulle God vloek.

22. Waar hulle ook al kyk, sal daar net moeilikheid, angs en wanhoop wees. Mense sal in die donkerte uitgegooi word.

23. Nogtans sal daardie tyd van donkerte en wanhoop nie vir altyd aanhou nie. Die land van Sebulon en Naftali sal gou verneder word, maar daar kom ’n tyd dat Galilea van die heidene, wat langs die pad tussen die Jordaan en die see lê, met heerlikheid gevul sal word.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 8