Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 37:5-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Nadat koning Hiskia se amptenare die koning se boodskap aan Jesaja oorgedra het,

6. het die profeet geantwoord: “Sê vir julle meester: ‘So sê die Here: Moenie jou ontstel oor die godslasterlike woorde wat die Assiriese koning se boodskappers teen My geuiter het nie.

7. Luister! Ek gaan seker maak dat die koning ’n gerug kry uit Assirië sodat hy huis toe moet gaan. En Ek sal maak dat hy huis toe wil gaan. Daar sal Ek hom met ’n swaard laat doodmaak.’”

8. Intussen het die Assiriese verteenwoordiger Jerusalem verlaat en teruggegaan om by die koning te kom. Die koning is van Lakis af weg. Hy het Libna aangeval.

9. Kort daarna het koning Sanherib gehoor dat koning Tirhaka van Etiopië ’n groot mag gelei het om die Assiriërs te kom aanval. Voor die koning van Assirië vertrek het om die aanval af te weer, het hy hierdie boodskap na Hiskia in Jerusalem gestuur:

10. “Hierdie boodskap is vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou om die bos lei met beloftes dat Jerusalem nie deur die koning van Assirië oorwin sal word nie.

11. Jy weet mos wat die konings van Assirië gedoen het in die een land na die ander. Hulle het almal platgeloop wat in hulle pad gestaan het. Sal jy dan gered word?

12. Het die gode van ander nasies hulle gered, nasies soos Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden wat in Telassar was? Die vorige konings van Assirië het hulle almal uitgewis!

13. En wat het met die koning van Hamat en die koning van Arpad gebeur? Wat het gebeur met die konings van Sefarwajim, Hena en Awwa?”

14. Nadat Hiskia die briewe ontvang het en dit gelees het, het hy na die tempel van die Here gegaan. Hy het die briewe voor die Here oopgesprei.

15. Toe het hy hierdie gebed voor die Here gebid:

16. “Here, Almagtige, God van Israel, u troon is tussen die magtige gerubs! U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde. U alleen het die hemele en die aarde geskep.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 37