Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 10:27-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

27. In daardie dag sal die Here die gevangenskap van sy volk beëindig. Hy sal die juk van slawerny van hulle skouers aftel en dit stukkend breek.

28. Kyk, die magtige leërs van Assirië kom! Hulle is nou by Aja, dan by Migron. Hulle bêre hulle voorrade by Mikmas.

29. Hulle trek oor die pas en bly oornag by Geba. Angs tref die stad van Rama. Al die mense van Gibea, Saul se stad, hardloop vir hulle lewe.

30. Ja, skreeu in angs, mense van Gallim! Waarsku die inwoners van Lajesa! Want die magtige leër kom. Arme Anatot! Watter lot wag vir jou.

31. Daar vlug die inwoners van Madmena. Die inwoners van Gebim maak reg om te hardloop.

32. Die vyand wag eers by Nob vir die res van die dag. Hy wys sy vuis vir Sionsberg in Jerusalem.

33. Maar kyk! Die Here, die Almagtige, sal elke groot boom afkap! Hy vernietig die hele leër van Assirië, saam met sy offisiere en bevelvoerders.

34. Die Magtige Een sal die vyand verslaan, soos ’n byl die groot bome van die Libanon afkap.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 10