Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 10:14-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Omdat ek groot is, het ek hulle rykdomme geplunder soos eiers in ’n nes geplunder word. Ek het koninkryke bymekaargemaak soos ’n boer eiers bymekaarmaak. Niemand kan ’n vlerk teen my oplig of sy mond oopmaak om te probeer protesteer nie!”

15. Kan die byl grootpraat dat hy sterker is as die een wat hom gebruik? Of is ’n saag groter as die een wat saag? Kan ’n sweep slaan sonder dat ’n hand dit beweeg? Kan ’n kierie op sy eie loop?

16. Luister mooi, koning van Assirië! Omdat jy aanhou grootpraat, gaan die Here, die Almagtige, ’n plaag onder jou trotse soldate stuur. ’n Vuur sal jou heerlikheid aan die brand steek.

17. Die Here, die Lig van Israel en die Heilige Een, sal die vuur wees wat hulle vernietig. In een nag sal Hy daardie dorings en dissels verbrand.

18. Assirië se groot leër is soos ’n groot woud en vrugbare landerye, maar dit sal vernietig word. Die Here sal Assirië se soldate volledig verwoes, en hulle sal wegkwyn soos siek mense in ’n plaag.

19. Net ’n paar van die groot leër sal oorleef, so min dat ’n kind hulle sal kan tel!

20. Ten einde laaste sal almal wat oor is in Israel en Juda die Here, die Heilige Een van Israel, vertrou. Hulle sal nie meer staatmaak op Assirië, wat hulle kan vernietig nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 10