Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 38:17-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Jeremia het toe vir Sedekia gesê: “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: As u aan die offisiere van die Babiloniese koning oorgee, sal u en u familie bly lewe. Hulle sal dan ook nie die stad met vuur verbrand nie.

18. Maar as u weier om oor te gee aan die offisiere van die Babiloniese koning, sal u nie ontsnap nie! Die stad sal in die mag van die Babiloniërs val en hulle sal dit aan die brand steek.”

19. Hierop het koning Sedekia geantwoord: “Ek is bang die Babiloniërs lewer my uit aan die Judeërs wat reeds na die Babiloniërs toe oorgeloop het. En wat sal hulle dan aan my doen?”

20. Jeremia het geantwoord: “U sal nie aan hulle uitgelewer word nie. Wees gehoorsaam aan die Here en doen wat ek sê. Dit sal dan met u goed gaan en hulle sal u lewe spaar.

21. Die Here het my gewys wat sal gebeur as u weier om oor te gee:

22. Hulle sal al die vroue wat in die paleis van die koning van Juda agtergebly het, vir die offisiere van die Babiloniese koning gee. En hulle sal u dan spot: “‘U sogenaamde vriende het u in die steek gelaat!Hulle het u mislei. Noudat u voetein die modder gesink het, waar is u vriende nou?’

23. “Hulle sal al u vroue en kinders na die Babiloniërs toe uitlei. U sal self ook nie ontsnap nie. Die koning van Babel sal u vang en die stad afbrand.”

24. Sedekia sê toe vir Jeremia: “Jy moet niemand vertel wat jy vir my gesê het nie. Doen jy dit, is jy dood!

25. My amptenare kan daarvan te hore kom dat ek met jou gepraat het. Hulle sal sê: ‘Ons wil weet waaroor jy en die koning gepraat het. Wat het jy vir hom gesê? Jy moet niks vir ons wegsteek nie! As jy ons nie wil vertel nie, sal ons jou doodmaak.’

26. As dit so gebeur, sê vir hulle jy het my kom smeek om jou nie na die tronk by Jonatan se huis terug te stuur nie. Sê jy is bang jy gaan daar dood.”

27. Die amptenare het toe ook na Jeremia toe gekom. Hulle wou weet hoekom die koning hom laat kom het. Maar Jeremia het geantwoord soos die koning hom beveel het om te sê. Hulle is by hom weg sonder om die waarheid uit te vind. Niemand het gehoor wat tussen die koning en Jeremia gesê is nie.

28. Jeremia het in die wagkwartiere van die paleis gebly tot Jerusalem die dag ingeneem is.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 38