Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 32:4-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Sedekia sal nie ontsnap nie. Die Babiloniërs sal hom vang en hom in die mag van die koning van Babel oorgee. Hulle sal van aangesig tot aangesig ontmoet en hy sal persoonlik met Sedekia praat.

5. Hy sal Sedekia na Babel toe neem en daar sal hy bly totdat Ek besluit om aan hom aandag te gee, sê die Here. Dit sal nie help om teen die Babiloniërs te veg nie, want julle sal nie wen nie.”

6. Jeremia het gesê: “Die Here het vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

7. ‘Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: Koop my stuk grond by Anatot. Jy het volgens die lossingsreg die eerste keuse om dit te koop.’”

8. En soos die Here gesê het sal gebeur, het Ganamel na my toe gekom waar ek opgesluit was in die binnehof van die paleis. Hy het vir my gesê: “Koop my grond by Anatot, in die grondgebied van Benjamin. Volgens reg het jy die eerste opsie om dit te koop as jou besitting. Koop dit vir jouself.” Toe het ek geweet dat dit die Here was wat met my gepraat het.

9. Ek het die stuk grond by Anatot by my neef Ganamel gekoop. Ek het hom 200 gram silwer daarvoor betaal.

10. Daarna het ek die koopkontrak geteken en dit voor getuies verseël. Ek het daarna die silwer op die skaal afgeweeg.

11. Die koopkontrak het al die voorwaardes en ooreenkomste tussen Jeremia en Ganamel bevat. Ek het die koopkontrak wat verseël was en ook ’n afskrif wat vir almal se insae bedoel was, geneem

12. en vir Baruk die seun van Nerija, kleinseun van Magseja gegee. Ek het dit alles voor my neef Ganamel en die getuies wat die koopkontrak geteken het, gedoen. Dit is gedoen voor al die Jode wat in die binnehof van die wagte gesit het.

13. Ek het toe voor almal vir Baruk gesê:

14. “Die Here, die Almagtige, die God van Israel sê: ‘Neem sowel die verseëlde as die oop koopkontrak en sit dit in ’n kleipot sodat dit vir ’n lang tyd behoue kan bly.

15. Want, sê die Here, die Almagtige, die God van Israel, eendag sal mense weer huise, grond en wingerde in hierdie land koop.’”

16. Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek gebid en gesê:

17. “Ag, oppermagtige Here, U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is vir U te moeilik om te doen nie!

18. Duisende mense het al u liefde en goedheid geniet. Maar U laat die kinders betaal vir die sondes wat hulle ouers gedoen het. U is die groot en magtige God, die Here, die Almagtige!

19. U het groot wysheid en doen groot dade. Daar is net mooi niks wat mense doen wat U nie raaksien nie. U vergoed mense volgens wat hulle gedoen het en die gevolge wat dit oplewer.

20. U het destyds in Egipte wonders en tekens gedoen. U doen dit vandag nog in Israel en onder alle mense. Selfs vandag nog is U steeds daarvoor bekend.

21. U het Israel uit Egipte gebring met tekens en wonders. Dit het gewys hoe groot u mag is en hoe sterk U is. Dit het groot vrees ingeboesem.

22. U het hierdie land wat U baie jare gelede aan hulle voorouers belowe het, aan die mense van Israel gegee. Dit is ’n vrugbare land waar melk en heuning vloei.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 32