Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 26:12-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Toe het Jeremia homself teenoor die leiers en die hele volk begin verdedig. Hy het gesê: “Die Here het my gestuur om teen hierdie tempel en hierdie stad te profeteer. Julle het alles gehoor wat ek vir julle gesê het.

13. Maar as julle begin reg lewe, goeie dinge doen en die Here gehoorsaam, sal Hy van plan verander en julle nie meer kwaad aandoen soos Hy gedreig het nie.

14. Wat my betref, ek is in julle mag. Maak met my soos wat julle dink reg is.

15. Maar weet verseker, as julle my doodmaak, maak julle ’n onskuldige persoon dood! En as julle dit doen, sal julle, hierdie stad en elke inwoner van die stad die verantwoordelikheid daarvoor moet dra. Ek praat die waarheid as ek sê die Here het my gestuur om hierdie boodskappe aan julle oor te dra.”

16. Toe het die leiers van Juda en al die mense vir die priesters en die sogenaamde profete gesê: “Hierdie man verdien nie die doodstraf nie, maar het namens die Here ons God met ons kom praat.”

17. ’n Paar van die ouer leiers van die land het toe opgestaan en met die mense wat daar bymekaar was, gepraat.

18. Hulle het gesê: “Dink ’n bietjie terug aan die tyd toe Miga van Moreset geprofeteer het. Dit was in die tyd toe Hiskia koning van Juda was. Hy het vir die hele volk van Juda gesê: ‘Die Here, die Almagtige, sê: Hulle sal Sion soos ’n landery omploeg en Jerusalem sal in ’n hoop bourommel verander. Die hoogte waarop die tempel staan, sal ’n woud wees.’

Lees volledige hoofstuk Jeremia 26