Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 16:13-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Daarom sal Ek julle uit hierdie land dryf na ’n vreemde land wat julle nie ken en waar julle voorouers nog nooit was nie. Daar kan julle net soveel afgode dien as wat julle wil. Julle moet geen guns van My verwag nie!’”

14. “Daar kom ’n tyd,” sê die Here, “dat mense nie meer sal sweer en sê nie: ‘So seker as die Here leef wat vir Israel uit Egipte gered het.’

15. In plaas daarvan sal hulle sê: ‘So waar as die Here lewe wat die mense van Israel teruggebring het uit die noorde en al die lande waarheen Hy hulle as ballinge gestuur het.’ Want Ek sal hulle terugbring na hierdie land wat Ek aan hulle voorouers gegee het.”

16. Die Here sê: “Ek stuur baie vissermanne wat hulle sal vang. Ek stuur ook jagters wat hulle oral in die berge, op heuwels of in rotsskeure sal jag.

17. Ek hou hulle fyn dop. Ek weet van elke sonde wat hulle doen, hulle kan niks vir My wegsteek nie.

18. Ek sal hulle weer en weer straf vir die slegte en verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Hulle het die land besmet met lewelose beelde van afskuwelike gode. Hulle het oral in my land hulle afskuwelike dade gepleeg.”

19. Here, U gee my krag. U beskerm my. Ek kan veilig by U skuil as gevaar dreig. Nasies van oral oor die aarde sal na U kom en sê: “Ons voorouers was dom om nikswerd afgode te dien.

20. Kan mense hulle eie gode maak? Maar ’n god wat jy maak,is mos geen god nie!”

21. “Ek sal hulle wys hoe groot my krag is en hoeveel mag Ek het. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is!”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 16