Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 16:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het weer vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

2. “Jy moenie trou nie. Jy moet ook nie kinders in hierdie land hê nie.

3. Laat Ek, die Here, jou vertel wat met die kinders sal gebeur wat in hierdie land gebore word, en ook hulle ouers:

4. Hulle sal aan dodelike siektes sterf. Niemand sal oor hulle huil of hulle begrawe nie. Hulle lyke sal soos mis op die grond bly lê. Hulle sal in oorloë sterf en van honger doodgaan, en hulle lyke sal kos vir die aasvoëls en roofdiere wees.”

5. Die Here het ook gesê: “Moenie in ’n huis ingaan waar daar getreur word oor iemand wat dood is nie. Moet ook nie saam met hulle huil of vir hulle simpatie hê nie. Want Ek het my beskerming en vrede van hierdie volk af weggeneem, sê die Here. Ek sal ook nie langer lojaal wees of vir hulle genade hê nie.

6. Almal in die land sal doodgaan, of hulle nou belangrike mense of arm mense is. Niemand sal hulle begrawe of oor hulle huil nie. Hulle vriende sal ook nie hulleself met skerp voorwerpe sny of hulle hare afskeer omdat hulle rou nie.

7. Niemand sal ook kos gee vir mense wat rou of iets om te drink om hulle te troos nie. Dit maak nie saak of dit hulle eie ouers is wat gesterf het nie.

8. “Jy moet ook nie na hulle feeste en partytjies gaan nie. Moet hoegenaamd nie saam met hulle eet of drink nie.

9. Want so sê die Here, die Almagtige, die God van Israel: Voor jy eendag doodgaan, sal jy sien wat Ek gaan doen. Ek gaan ’n einde maak aan al die vrolike gesing en gelag in hierdie land. Die vrolike stemme van bruid en bruidegom sal ook stil wees.

10. “As jy al hierdie dinge vir die mense vertel, sal hulle vir jou vra: ‘Hoekom het die Here al hierdie rampe oor ons aangekondig? Wat het ons gedoen om dit te verdien? Hoe het ons teen Hom gesondig?’

11. Dan moet jy vir hulle sê: ‘Die Here sê dit is omdat julle voorouers nie lojaal aan My was nie. Hulle het ander gode vereer en hulle gedien. Hulle het van My vergeet. Hulle het nie my voorskrifte onderhou nie.

12. Maar julle gedra julle nog erger as julle voorouers! Julle is hardkoppig en hou net aan om verkeerde dinge te doen. Julle luister nie na My nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 16