Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 11:3-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Sê vir hulle: ‘Die Here, die God van Israel, sê: ‘Daar rus ’n vloek op mense wat nie gehoorsaam is aan die voorskrifte van my verbond nie!

4. Ek het vir julle voorouers gesê toe Ek hulle as slawe in Egipte vrygemaak het: Julle moet aan My gehoorsaam wees. Doen alles wat Ek julle beveel om te doen. Dan sal julle my volk wees en Ek sal julle God wees.

5. “‘So sou Ek die belofte hou wat Ek met ’n eed aan julle voorouers gemaak het. Ek sal hulle ’n land gee waar melk en heuning vloei. Dit is die land waarin julle nou lewe.’” Ek het geantwoord: “Dit is so, Here!”

6. Toe sê die Here: “Kondig hierdie boodskap aan in Juda se dorpe en Jerusalem se strate en sê: ‘Onthou die voorskrifte van hierdie verbond wat Ek met julle gesluit het, en kom dit na!

7. Toe Ek julle voorouers uit Egipte gebring het, het Ek hulle by herhaling gewaarsku en gesê: Wees gehoorsaam aan My!

8. Maar julle voorouers het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle wou nie eers luister nie. Elkeen het eenvoudig sy eie kop gevolg en verkeerde dinge gedoen. Hulle wou nie doen wat Ek hulle beveel het om te doen nie. Omdat hulle ongehoorsaam was, het Ek die strawwe wat in die verbond opgeteken is, oor hulle gebring.’”

9. Die Here het weer met my gepraat en gesê: “Ek het ontdek dat daar ’n komplot is teen My onder die mense van Juda en Jerusalem.

10. Hulle begaan nou dieselfde oortredings as hulle voorouers. Hulle weier om te doen wat Ek hulle beveel het. Hulle loop agter ander gode aan en aanbid hulle. “Israel en Juda het die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het, verbreek.

11. Omdat hulle so optree,” sê die Here, “sal Ek hulle tref met ’n ramp wat hulle nie sal vryspring nie. Al smeek hulle My om hulp, sal Ek nie na hulle luister nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 11