Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 8:10-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Sewe dae later het Noag weer die duif uitgelaat.

11. Teen die aand was die duif weer daar met ’n vars olyfblaar in die bek. Noag het besef dat die water nou al heelwat gesak het.

12. ’n Week later het hy nog ’n keer die duif uitgelaat, maar hierdie keer het dit nie na hom toe teruggekom nie.

13. Toe Noag 601 jaar oud was, tien en ’n half maande nadat die vloed begin het, het Noag die luik van die ark oopgemaak en gesien dat die aarde besig was om droog te word.

14. Nog twee maande het verbygegaan en uiteindelik was die aarde droog genoeg.

15. Toe sê God vir Noag:

16. “Gaan nou uit die ark, jy en jou gesin.

17. Laat al die diere en voëls uit sodat hulle kan vermeerder en oor die aarde versprei.”

18. Noag en sy vrou, sy seuns en hulle vroue het toe uit die ark gegaan,

19. asook al die verskillende soorte diere en voëls.

20. Noag bou toe ’n altaar vir die Here en offer daarop van die diere en voëls wat vir hierdie doel bestem was.

21. Die Here het die offer aanvaar en vir Homself gesê: “Ek sal nooit weer die aarde vervloek weens die mens se oortredings nie. Immers, die mens se gedagtes is boos van sy jeug af. Ek sal nooit weer al die lewende wesens so vernietig nie.

22. So lank as die aarde bestaan, só lank sal saaityd en oestyd, koue en hitte, winter en somer, dag en nag bly voortbestaan.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 8