Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 42:19-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. As julle werklik eerlike mense is, sal een van julle in die tronk agterbly. Die ander kan egter huis toe gaan met die kos vir julle gesinne.

20. Maar julle moet julle jongste broer volgende keer saambring. So sal ek weet of julle die waarheid praat. As julle dit doen, sal ek julle lewens spaar.” Hulle het dié reëling aanvaar.

21. Die broers het toe onder mekaar gepraat: “Dit het alles gebeur oor wat ons lank gelede aan Josef gedoen het. Ons het sy angs en benoudheid gesien en gehoor hoe hy gesmeek het, maar ons het ons doof gehou. Dis hoekom hierdie moeilikheid nou oor ons kom.”

22. “Het ek nie vir julle gesê om dit nie te doen nie?” sê Ruben. “Maar julle wou mos nie luister nie. Nou gaan ons almal sterf omdat ons hom vermoor het.”

23. Hulle het natuurlik nie geweet Josef verstaan alles wat hulle gesê het nie, want hy het deur ’n tolk met hulle gepraat.

24. Josef het dadelik omgedraai weg van hulle af, want hy kon nie sy trane bedwing nie. Hy het weer na hulle toe teruggegaan en voor hulle oë vir Simeon laat boei en tronk toe gestuur.

25. Josef het opdrag gegee dat die broers se sakke vol graan gemaak word en dat die geld wat hulle betaal het bo-op in die sakke teruggesit word. Hy het ook vir hulle padkos vir die pad gegee. Dit is presies net so gedoen.

26. Daarop het hulle die graan op die donkies gelaai en die tog terug huis toe aangepak.

27. Toe een van hulle sy sak oopmaak om kos vir sy donkies uit te haal, kry hy sy geld bo in die sak.

28. “Haai! Kom kyk hier!” skree hy vir sy broers. “My geld is hier bo-op in my sak!” Hulle het hulle doodgeskrik en vir mekaar gesê: “Wat het God met ons laat gebeur?”

29. Toe hulle in die land Kanaän by Jakob, hulle pa, aankom, het hulle hom alles vertel wat gebeur het.

30. “Die man in beheer van die land het bars met ons gepraat,” vertel hulle. “Hy het ons vir spioene aangesien,

31. maar ons het gesê: ‘Ons is eerlike mense. Ons is nie spioene nie.

32. Ons is twaalf broers, die seuns van een pa. Een van ons is dood en die jongste is by ons pa in die land Kanaän.’

33. Daarop sê die belangrike man vir ons: ‘Om te kan vasstel of julle eerlik is, moet een van julle hier by my agterbly. Neem nou die graan vir julle honger gesinne en gaan huis toe.

34. Maar julle moet julle jongste broer saambring hier na my toe. Dan sal ek weet dat julle eerlik is en nie spioene nie. Ek sal dan julle broer uit die tronk vrylaat en julle mag vrylik rondbeweeg in die land.’”

35. Hulle het die sakke oopgemaak en kyk! die geld wat elkeen vir die graan betaal het, lê bo in sy sak! Hulle en hulle pa was vreesbevange.

36. Jakob het uitgeroep: “Julle beroof my van my kinders! Josef leef nie meer nie en Simeon is ook weg. Nou wil julle Benjamin ook wegneem. Alles is teen my!”

37. Ruben sê toe vir sy pa: “Pa kan al twee my seuns doodmaak as ek Benjamin nie na Pa toe terugbring nie. Laat hom in my hande en ek sal hom aan Pa terugbesorg.”

38. Maar Jakob sê: “My seun sal beslis nie met julle saamgaan nie. Sy broer Josef is nou al dood en hy is al een wat oor is van sy ma se kinders. As hy op die pad iets oorkom, sal julle my in my ouderdom met smart in die graf laat gaan.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 42