Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 27:25-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

25. Toe sê Isak: “Bring vir my die wildsvleis sodat ek dit kan eet. Dan sal ek jou my seën gee.” Jakob het dit vir hom gebring en Isak het geëet. Hy het ook die wyn gedrink wat Jakob bedien het. Toe sê Isak:

26. “Kom nader en soen my, my seun.”

27. Jakob gaan toe nader en soen hom. Toe Isak sy klere ruik, was hy tevrede en het hy sy seun geseën. Hy het gesê: “Die reuk van my seun is die geur van die veld wat die Here geseën het.

28. Mag God vir jou die dou van die hemel en die vrugbaarheid van die aarde gee sodat jy goeie oeste van graan en wyn sal hê.

29. Mag baie nasies jou dien. Jy sal heers oor jou familie en jou broers sal voor jou buig. Almal wat jou vervloek, sal self vervloek wees, en almal wat jou seën, sal ook geseën word.”

30. Nadat sy pa hom geseën het, was Jakob skaars weg van Isak af, of sy broer Esau kom terug van die jag.

31. Hy het ’n lekker gereg gaargemaak en dit vir Isak gebring. Hy sê toe: “Sit regop, Pa, en eet van my wildsvleis sodat Pa my kan seën.”

32. “Wie is jy dan?” vra Isak.“Maar dis ek, Esau, Pa se oudste seun!” antwoord hy.

33. Isak was baie ontsteld en vra: “Nou wie was dit dan wat so pas vir my wildsvleis gegee het? Ek het dit reeds geëet en hom geseën voor jy gekom het en hy sal onherroeplik geseën bly.”

34. Toe Esau dit hoor, het hy hard en bitter geskree. “Ag, Pa, seën my tog ook!” het hy gepleit.

35. Maar Isak sê: “Jou broer was hier en hy het my bedrieg. Hy het reeds jou seën ontvang.”

36. Esau sê: “Dis geen wonder sy naam is Jakob nie, want dis nou al die tweede keer dat hy my bedrieg het. Eers het hy my eersgeboortereg gevat en nou het hy my seën gesteel. Ai, het Pa dan nie eers één seën vir my oor nie?”

Lees volledige hoofstuk Genesis 27