Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 2:8-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Nadat die koning se besluit bekendgemaak is, is Ester ook saam met baie ander meisies onder Hegai se sorg in die stad Susan in die koning se paleis geplaas.

9. Hegai was baie in sy skik met Ester en hy het haar baie goed behandel. Hy het gesorg dat sy goeie skoonheidsbehandeling kry en die regte dieet volg. Hy het sewe van die beste kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en hulle na die beste deel van die koning se harem verskuif.

10. Ester het vir niemand gesê van watter volk sy kom, of wie haar familie is nie. Mordegai het haar verbied om dit te doen.

11. Mordegai het elke dag in die voorhof van die harem gaan rondstaan om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gebeur.

12. Voordat dit ’n meisie se beurt was om na die koning te kom, moes sy volgens voorskrif eers twaalf maande lank skoonheidsbehandeling kry. Sy is ses maande lank met mirre-olie behandel en ses maande lank met lekkerruikkruie en ander skoonheidsmiddels. Daarna kon sy voor koning Ahasveros gaan verskyn.

13. Elke meisie kon, wanneer dit haar beurt was om voor die koning in sy paleis te verskyn, uit die harem kies wat sy wou aantrek.

14. Elke meisie is in die aand na die koning se paleis toe geneem en die volgende oggend teruggeneem na ’n ander deel van die koning se harem. Dit was onder die sorg van Saäsgas, die haremopsigter oor die byvroue. Sy kon nooit weer na die koning toe teruggaan nie, behalwe as hy baie van haar gehou het en spesifiek vir haar gevra het.

15. Toe kom Ester se beurt, die dogter van Abigajil, die oom van Mordegai wat haar as sy eie dogter aangeneem het. Sy het vir niks meer gevra as wat Hegai, die hoof van die koning se harem, vir haar aanbeveel het nie. Almal wat haar gesien het, was opgewonde oor haar.

Lees volledige hoofstuk Ester 2