Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 8:24-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

24. Ek het twaalf leiers uit die priesters gekies, naamlik Serebja, Gasabja en nog tien ander priesters

25. om in beheer te wees van die vervoer van die silwer, goud, die goue bakke en ander voorwerpe. Die koning, sy raadgewers, sy leiers en al die mense van Israel het dit vir die tempel van ons God gegee.

26. Ek het dit alles geweeg en vir hulle gegee. Dit was: 24 ton silwer, voorwerpe van silwer wat 68 kilogram geweeg het, en goue voorwerpe van drie en ’n half ton.

27. Verder was daar twintig goue bakke wat saam agt en ’n half kilogram geweeg het en twee kosbare koperbakke net so waardevol soos goud.

28. Ek het vir hierdie priesters gesê: “Julle en hierdie geskenke is vir die Here afgesonder. Hierdie silwer en goud is offers wat vrywillig vir die Here, die God van ons voorouers gemaak is.

29. Julle moet hierdie geskenke goed oppas totdat julle dit by die stoorplekke by die tempel van die Here in Jerusalem oorhandig. Daar mag geen verliese wees wanneer julle dit aan die priesters, die Leviete en die leiers van Israel oorhandig nie.”

30. Die priesters en die Leviete het die taak om hierdie geskenke na die tempel van ons God in Jerusalem te vervoer, aanvaar.

31. Op 19 April het ons van die Ahawakanaal vertrek om na Jerusalem te gaan. Ons God het ons beskerm. Hy het ons op ons reis gered van ons vyande en van hinderlae.

32. Toe ons in Jerusalem aangekom het, het ons vir drie dae daar gerus.

33. Op die vierde dag het hulle die silwer, goud en die ander kosbare voorwerpe by die tempel van ons God geweeg. Dit is toe in die hande gelaat van Meremot seun van Urija die priester, en Eleasar seun van Pinehas. Nog twee Leviete, Josabad die seun van Jesua en Noadja seun van Binnuï, was saam met hulle.

Lees volledige hoofstuk Esra 8