Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 47:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die man het my teruggebring na die ingang van die tempel. Daar het ek ’n stroom water gesien wat onder die tempel se drumpel ooswaarts uitvloei, want die tempel het oos gekyk. Hierdie stroom het regs van die altaar, aan die suidekant, verbygegaan.

2. Die man bring my toe buitekant die muur deur die noordelike ingang en lei my na die oostelike ingang. Daar kon ek die stroom water sien vloei deur die suidelike kant van die oostelike ingang.

3. Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het 500 metervanaf die oospoort gemeet. Toe laat hy my deur die water loop. Hier was die water enkeldiep.

4. Hy het nog 500 meter afgemeet en my deur die water laat loop. Hier was dit kniediep. Hy het nog 500 meter afgemeet en my deur die water laat loop. Nou het dit tot by my heupe gekom.

5. Toe meet hy nog 500 meter af, maar toe was die water ’n rivier waardeur ’n mens nie kon loop nie. Die water was diep genoeg dat ’n mens daarin kon swem. Dit het ’n rivier geword waardeur ’n mens nie kon loop nie.

6. Hy vra toe vir my: “Mensekind, het jy dit gesien?” Toe lei hy my terug na die rivier se oewer.

7. Terwyl ek daar loop, sien ek ’n hele klomp bome aan albei kante van die rivier.

8. Hy het vir my gesê: “Hierdie rivier vloei oos deur die woestyn af na die Jordaanvallei toe, waar dit dan in die Dooie See invloei. Die water van dié rivier sal die soutwater van die Dooie See vars maak.

9. Oral waar hierdie rivier loop, bring dit lewe. Vis sal volop wees, want hierdie water sal die soutwater vars maak. Waar die water ook al vloei, sal alles lewe.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 47