Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 42:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierna het die man my uitgebring na die tempel se voorhof aan die noordekant. Ons het die buitenste hof ingegaan en by ’n groep kamers teen die noordelike muur van die binneste hof gekom.

2. Die lengte van die gebou met sy ingang aan die noordekant was 50 meter en die breedte 25 meter.

3. Die gebou het gegrens aan die tien meter wye strook teen die binneste voorhof en aan die deel van die tempelplein teen die buitenste voorhof. Die gebou was terrasvormig met drie vlakke, die een bokant die ander.

4. Voor elke ry kamers was ’n loopgang van vyf meter breed en 50 meter lank. Die ingange van die loopgange het almal noord gekyk.

5. Die kamers bo was kleiner as dié onder, want die boonste vlakke het meer plek nodig gehad vir loopruimtes voor hulle.

6. Die kamers was in drie vlakke en het nie pilare gehad soos die voorhowe nie. Daarom was die boonstes kleiner as dié onder en in die middel.

7. Daar was ’n muur voor die kamergebou al langs die buitenste voorhof, wat 25 meter lank was.

8. Die lengte van die kamergebou teen die buitenste voorhof was 25 meter, maar aan die tempel se kant was dit 50 meter.

9. Die ingang uit die buitenste voorhof na die onderste kamers toe was aan die oostekant.

10. Daar was ook kamers teen die muur van die buitenste voorhof, aan die suidekant teen die tempelplein. Daar was kamers net soos aan die noordekant teen die muur.

11. En daar was ’n gang voor hulle net soos voor die kamers aan die noordekant. Die kamers was net so lank en so breed soos dié aan die noordekant. Hulle afmetings was ook dieselfde.

12. Daar was ’n ingang aan die punt van die gang, die gang langs die keermuur, en nog een aan die oostekant vir dié wat daar wou ingaan.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 42