Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 40:7-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Die sykamers vir die wagte aan elke kant was elkeen drie vierkante meter, en die mure tussen die sykamers was elkeen twee en ’n half meter dik. Agter teen die poortgebou was daar ’n ingangsportaal, en die drumpel na die portaal was drie meter breed.

8. Hy het ook die ingangsportaal na die hek gemeet,

9. en dit was vier meter. Die pilare wat dit gedra het, was een meter dik. Dié ingangsportaal was aan die binnekant van die ingang en het na die tempel gekyk.

10. Daar was drie sykamers vir wagte aan weerskante, almal ewe groot, en die mure tussenin was ewe dik.

11. Die man het die ingang gemeet, wat vyf meter wyd was as dit oop staan, maar die volle wydte van die poort was ses en ’n half meter.

12. Voor elkeen van die sykamers was ’n afskorting van ’n half meter dik. Die sykamers was elkeen drie vierkante meter.

13. Hy het toe verder die volle lengte van die ingang gemeet tussen die agterste mure van die sykamers wat na mekaar kyk, en dit was twaalf en ’n half meter wyd.

14. Hy het die skeidingsmure al langs die binnekant van die ingang gemeet tot by die voorportaal, en die lengte was 30 meter.

15. Die volle lengte van die toegangsportaal tot by die ingang was 25 meter.

16. Agter in die sykamers en in die skeidingsmure was vensteropenings ingelaat. Daar was ook vensters in die voorportaal. Die skeidingsmure was versier met gekerfde palmbome.

17. Die man het my toe na die buitenste voorhof gevat. Rondom die voorhof was daar vertrekke en ’n plaveisel. Daar was 30 vertrekke teenaan die plaveisel.

18. Die plaveisel was weerskante van die ingange en was so breed soos die voorpoorte. Dit was die laer plaveisel.

19. Die man het toe die afstand gemeet tussen die tempel se buitenste voorhof tussen die binneste en buitenste ingange, en dit was 50 meter.

20. Daar was ’n ingang aan die noordekant net soos aan die oostekant, en die man het dit ook gemeet.

21. Hier was ook drie sykamers vir wagte en ’n voorportaal. Die afmetings was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd, net soos die ander ingang.

22. Die vensters, toegangsportaal en palmversierings was identies aan dié van die oostelike ingang. Daar was sewe trappe wat na die ingang gelei het, en die ingangsportaal was binne-in die poort.

23. Net soos aan die oostekant was daar ook aan die noordekant ’n poortgebou wat na die binnekant van die tempel gelei het. Die afstand tussen die buitenste en die binneste poorte was 50 meter.

24. Daarna neem die man my na die suidekant toe, waar die suidelike ingang was. Hy het die tussenmure en die toegangsportaal van die poortgebou gemeet, en dit was presies dieselfde as dié in die ander poortgeboue.

25. Net soos die ander, het die toegangsportaal ook vensteropenings rondom gehad wat 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd was.

26. Daar was sewe trappe op na die ingang toe en agterin was ’n toegangsportaal. Die mure aan weerskante was met palms versier.

27. Reg oorkant die buitenste ingang was nog ’n poort wat na die binneste hof gelei het. Die afstand tussen die binneste en die buitenste poortgeboue aan die suidekant was 50 meter.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 40