Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 34:20-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. “Daarom, sê die oppermagtige Here, Ek oordeel tussen die vet en die maer skape.

21. Met julle skouers en horings stoot julle vet skape my swak skape weg totdat julle hulle ver weggejaag het.

22. Nou red Ek my kudde, en hulle sal nie langer geplunder word nie. Ek oordeel tussen skape.

23. En Ek stel een herder oor almal aan, my dienaar Dawid. Hy sal hulle versorg en hulle herder wees.

24. En Ek, die Here, sal hulle God wees, en my dienaar Dawid sal hulle leier wees. Ek, die Here, het so gesê!”

25. “Ek maak ’n ooreenkoms van vrede met hulle en dryf al die gevaarlike diere uit die land weg. Dan sal my volk veilig in die wildernis kan uitkamp en in die woude slaap sonder om bang te wees.

26. My volk en hulle huise, wat rondom my woonplek is, sal geseënd wees. Ek stuur reënbuie, buie van seëninge.

27. Die vrugteboorde en landerye sal volop dra. Almal sal veilig wees. Wanneer Ek hulle uit die ballingskap verlos en hulle red van die mense wat hulle verslaaf het, sal hulle besef dat Ek die Here is.

28. Hulle sal nie ander volke se slagoffers wees nie, en wilde diere sal hulle nie meer aanval nie. Hulle sal in veiligheid woon, en niemand sal hulle bangmaak nie.

29. “Ek maak hulle land bekend vir sy rekordoeste sodat my volk nooit weer honger sal wees of deur nasies bespot sal word nie.

30. “Op dié manier sal hulle besef dat Ek, die Here hulle God, by hulle is. En hulle sal besef dat hulle, die volk van Israel, my volk is, sê die oppermagtige Here.

31. Julle is my kudde, die skape van my weiveld. Julle is my volk, en Ek is julle God, sê die oppermagtige Here.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 34