Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 33:8-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. As Ek sê dat bose mense sal sterf en jy waarsku hulle nie oor hulle optrede nie, sal hulle sterf oor hulle sondes, maar Ek hou jou verantwoordelik vir hulle dood.

9. Maar as jy hulle waarsku om om te draai en hulle weier om dit te doen, sal hulle doodgaan oor hulle sondes, maar jy sal nie daarvoor verantwoordelik gehou word nie.”

10. “Mensekind, sê vir die mense van Israel: Julle sê: ‘Ons oortredings en sondes rus swaar op ons. Ons vergaan! Hoe gaan ons oorleef?’

11. So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, Ek wil nie hê skuldige mense moet doodgaan nie. Ek wil net hê hulle moet omdraai van hulle bose optrede sodat hulle kan lewe. Draai om! Draai weg van julle boosheid, mense van Israel! Hoekom wil julle doodgaan?

12. “Mensekind, sê vir jou volksgenote: Die goeie dade van regverdige mense sal hulle nie red as hulle sonde doen nie. En die sondes van bose mense sal nie teen hulle tel as hulle hulle bekeer en wegdraai van hulle sonde nie.

13. As Ek vir regverdige mense sê hulle sal lewe, maar hulle begin dan sonde doen en verwag dat hulle regte optrede van die verlede hulle sal red, dan sal niks van hulle goeie dade onthou word nie. Ek sal hulle oor hulle sondes vernietig.

14. As Ek vir bose mense sê hulle sal doodgaan, maar hulle draai weg van hulle sondes en doen wat reg en goed is,

15. soos die goed teruggee wat hulle as waarborg vir skuld gehou het, of terugbetaal wat hulle gesteel het, lewe volgens die wette wat lewe bring en nie doen wat verkeerd is nie; as hulle dit doen, sal hulle beslis lewe en nie doodgemaak word nie.

16. Hulle sondes sal nie teen hulle gehou word nie. Hulle doen wat reg en goed is, en hulle sal verseker lewe.

17. “Jou mense sê: ‘Die Here tree nie regverdig op nie!’ Maar dis julle wat nie regverdig optree nie!

18. As mense wat regverdig is, wegdraai en die slegte begin doen, sal hulle doodgemaak word.

19. En wanneer mense wat verkeerd doen, wegdraai en begin doen wat goed en reg is, sal hulle lewe.

20. Mense van Israel, julle sê: ‘Die Here tree nie regverdig op nie!’ Maar Ek oordeel elkeen van julle volgens sy of haar dade.”

21. Op 8 Januarie, in die twaalfde jaar van ons ballingskap, het ’n man wat uit Jerusalem ontsnap het, na my toe gekom en gesê: “Die stad het geval!”

22. Die vorige aand het die Here aan my verskyn en my mond oopgemaak sodat ek kon praat toe die man die volgende oggend by my kom.

23. Toe het die Here vir my gesê:

Lees volledige hoofstuk Esegiël 33