Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 3:16-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Toe die sewe dae verby is, het die Here vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

17. “Mensekind, Ek het jou aangestel om wag te hou oor Israel. As jy ’n boodskap van My af kry, moet jy dit dadelik vir die volk gee.

18. As Ek die bose mense waarsku en sê: ‘Jy verdien die doodstraf,’ maar jy waarsku hulle nie, sal hulle doodgaan vanweë hulle afskuwelike dade. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou, en hulle bloed van jou eis.

19. As jy hulle waarsku en hulle hou aan om afskuwelike dinge te doen en weier om om te draai, sal hulle as gevolg van hulle sondes doodgaan. Maar jy sal jou eie lewe red omdat jy gedoen het wat vir jou gesê is.

20. “As goeie mense die slegte begin doen en Ek hulle dan laat struikel om hulle te waarsku, sal hulle doodgaan. As jy hulle nie oor die gevolge van hulle optrede waarsku nie, sal hulle as gevolg van hulle sondes doodgaan. Die goeie wat hulle voorheen gedoen het, sal hulle dan nie help nie. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou en hulle bloed van jou hand eis.

21. Maar as jy hulle waarsku en hulle draai om, sal hulle lewe, en jy sal ook jou eie lewe red.”

22. Toe het die Here van my besit geneem en vir my gesê: “Gaan uit na die vallei toe. Ek wil daar met jou praat.”

23. Ek het opgestaan en gegaan, en daar het ek die heerlikheid van die Here gesien, net soos in my eerste visioen by die Kebarrivier. En ek het op my gesig op die grond neergeval.

24. Toe het die Gees oor my gekom en my regop laat staan. Hy het met my gepraat en vir my gesê: “Gaan sluit jou toe in jou huis.

25. Daar sal jy met toue vasgebind word sodat jy nie tussen jou mense kan kom nie.

26. En Ek sal jou tong aan jou verhemelte laat klou sodat jy hulle nie kan waarsku nie, want hulle is ’n opstandige spul.

27. Maar wanneer Ek vir jou ’n boodskap gee, sal Ek jou tong losmaak sodat jy kan praat. Dan sal jy vir hulle sê: ‘Dit is wat die oppermagtige Here sê!’ Party sal na jou luister en ander sal weier, want hulle is ’n opstandige klomp.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 3