Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 26:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Op 3 Februarie, in die twaalfde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was, het die Here vir my gesê:

2. “Mensekind, Tirus verlekker hom oor Jerusalem wat geval het. Hy sê: ‘Aha! Haar beheer oor die handelsroetes na die ooste is verby. Nou gaan ek ryk word omdat sy vernietig is!’

3. “Daarom sê die oppermagtige Here: Ek is jou vyand, Tirus. Ek bring baie nasies teen jou. Hulle sal soos die golwe van die see teen jou kus aanrol.

4. Hulle sal die mure van Tirus vernietig en sy torings afbreek. Ek skraap die sand weg sodat net ’n kaal rots agterbly.

5. Niemand sal meer op hierdie eiland bly nie. Die vissermanne sal daar hulle nette uitsprei. So sê Ek, die oppermagtige Here. Tirus sal die prooi van baie nasies word

6. en die dorpies op die vasteland sal deur die swaard vernietig word. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.

7. “Die oppermagtige Here sê: Ek bring koning Nebukadnesar van Babilon, die koning oor konings, uit die noorde, teen Tirus. Hy kom met perde en strydwaens, ruiters en ’n groot leër.

8. Hy sal jou dogterstede wat in die veld is, oorweldig. Dan sal hy jou stad aanval deur ’n beleëringswal teen jou op te gooi en ’n dak van skilde teen jou mure aan te bring.

9. Hy sal jou mure met stormramme omstamp en jou to-rings met sy wapens omgooi.

10. Sy perde sal so baie wees dat jy toe onder die stof sal wees. En jou mure sal bewe van die gedruis van die wapentuig en waens as hulle die stad deur sy stukkende mure binnekom.

11. Sy ruiters sal elke straat vertrap. Hulle sal jou mense doodmaak en jou sterk pilare omgooi.

12. “Hulle sal jou rykdom plunder en jou handelsware steel en jou mure afbreek. Hulle sal jou pragtige huise verwoes en die bakstene en hout en sand in die see gooi.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 26