Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 20:7-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Toe het Ek vir hulle gesê: ‘Elkeen van julle moet julle afgode nou weggooi. Moenie julle besoedel met Egiptiese afgode nie, want Ek, die Here, is julle God.’

8. “Maar hulle was opstandig teen My en wou nie luister nie. Hulle het nie hulle afgode weggegooi en nie die Egiptiese gode gelos nie. Toe het Ek gedreig dat Ek my wraak oor hulle sou uitgiet om my woede op hulle af te koel terwyl hulle nog in Egipte is.

9. Maar, om my eer te beskerm het Ek dit nie gedoen nie. Anders sou die nasies in die omgewing Israel se God spot en vir Israel lag. Hy het immers belowe om sy volk te red.

10. “Daarom het Ek my volk uit Egipte gebring en in die woestyn ingelei.

11. Daar het Ek vir hulle my voorskrifte gegee en my bepalings bekendgemaak sodat elkeen wat daaraan gehoorsaam is, kon bly lewe.

12. En Ek het vir hulle my Sabbatte gegee as dae van rus, as ’n teken van die verhouding tussen My en hulle. So wou Ek hulle daaraan herinner dat Ek, die Here, hulle afgesonder het om heilig en spesiaal te wees.

13. “Maar die mense van Israel was in die woestyn opstandig teen My. Hulle het daar al geweier om my voorskrifte te gehoorsaam. Hulle het hulle nie aan my wil gesteur nie, al sou gehoorsaamheid aan hulle die lewe gegee het. Daarom het hulle my Sabbatdae geminag. Ek het gedreig om my wraak oor hulle uit te giet. Ek was van plan om hulle in die woestyn heeltemal te vernietig.

14. Maar ter wille van my Naam het Ek dit nie gedoen nie. Anders sou die nasies wat gesien het hoe Ek my volk uit Egipte uitgelei het, kon sê dat Ek hulle vernietig het omdat Ek kwansuis nie vir hulle kon sorg nie.

15. Maar Ek het in die woestyn vir hulle gesweer dat Ek hulle nie in die land sou bring wat Ek vir hulle bestem het nie – die land van melk en heuning, die mooiste plek op aarde.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 20