Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 10:12-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Die gerubs en die wiele was vol oë. Die gerubs het oë oor hulle hele lywe gehad, en ook op hulle hande en hulle rûe en hulle vlerke.

13. Ek het gehoor iemand praat daarvan as “wiele”.

14. Elkeen van die vier gerubs het vier gesigte gehad. Die eerste was die gesig van ’n bees. Die tweede was die gesig van ’n mens. Die derde was die gesig van ’n leeu. En die vierde was die gesig van ’n arend.

15. Die gerubs het opgestyg. Dit was dieselfde lewende wesens wat ek langs die Kebarrivier gesien het.

16. Wanneer die gerubs beweeg het, het die wiele saam beweeg. Wanneer hulle in die lug opgestyg het, het die wiele langs hulle gebly.

17. Wanneer die gerubs stilgestaan het, het die wiele ook gaan staan, want die gees van die lewende wesens was in die wiele.

18. Toe het die heerlikheid van die Here van die deur van die tempel af beweeg en oor die gerubs gehang.

19. Terwyl ek gekyk het, het die gerubs met hulle wiele na die oostelike ingang van die Here se tempel gevlieg. En die heerlikheid van die God van Israel het oor hulle gehang.

20. Dit was dieselfde lewende wesens wat ek onder die God van Israel gesien het toe ek langs die Kebarrivier was. Ek het geweet hulle is gerubs,

21. want elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad, en iets wat soos mensehande gelyk het, was onder hulle vlerke.

22. Hulle gesigte het ook net soos die gesigte gelyk van die wesens wat ek langs die Kebar gesien het, en hulle het reguit vorentoe beweeg, net soos die ander gedoen het.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 10