Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 10:10-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Die vier wiele het presies eenders gelyk. Binne-in elke wiel het ’n ander wiel dwars gedraai.

11. Die gerubs kon beweeg in die rigting van enige van die vier kante, sonder om van koers te verander as hulle beweeg; in die rigting waarheen die voorste gedraai was, het die ander gevolg, en hulle het nie van koers verander as hulle beweeg nie.

12. Die gerubs en die wiele was vol oë. Die gerubs het oë oor hulle hele lywe gehad, en ook op hulle hande en hulle rûe en hulle vlerke.

13. Ek het gehoor iemand praat daarvan as “wiele”.

14. Elkeen van die vier gerubs het vier gesigte gehad. Die eerste was die gesig van ’n bees. Die tweede was die gesig van ’n mens. Die derde was die gesig van ’n leeu. En die vierde was die gesig van ’n arend.

15. Die gerubs het opgestyg. Dit was dieselfde lewende wesens wat ek langs die Kebarrivier gesien het.

16. Wanneer die gerubs beweeg het, het die wiele saam beweeg. Wanneer hulle in die lug opgestyg het, het die wiele langs hulle gebly.

17. Wanneer die gerubs stilgestaan het, het die wiele ook gaan staan, want die gees van die lewende wesens was in die wiele.

18. Toe het die heerlikheid van die Here van die deur van die tempel af beweeg en oor die gerubs gehang.

19. Terwyl ek gekyk het, het die gerubs met hulle wiele na die oostelike ingang van die Here se tempel gevlieg. En die heerlikheid van die God van Israel het oor hulle gehang.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 10