Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 9:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Gaan weer terug na die farao toe,” het die Here Moses beveel. “Sê vir hom: ‘Dit is wat die Here, die God van die Hebreërs, sê: Jy moet my volk laat gaan sodat hulle My kan gaan aanbid.

2. As jy weier om hulle te laat gaan en aanhou om hulle terug te hou,

3. sal die Here ’n dodelike siekte laat uitbreek onder al die diere in die veld. ’n Epidemie sal uitbreek onder jou perde, jou donkies, jou kamele, jou beeste en jou skape.

4. Die Here sal weer onderskeid maak tussen die vee van die Israeliete en die vee van Egipte. Nie een van Israel se vee sal vrek nie.’”

5. Die Here het besluit dat Hy die epidemie net die volgende dag sal laat uitbreek in die land.

6. Van die volgende oggend af het die Here dit laat gebeur. Al die vee van Egipte het begin doodgaan. By die Israeliete is daar egter nie een dood nie.

7. Die farao het mense gestuur om te kom kyk of dit so is. Selfs nadat hy gehoor het dat dit wel so is, het hy hardkoppig gebly. Hy het volgehou om te weier dat die volk kon gaan.

8. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Vat ’n paar hande vol roet uit ’n oond en laat Moses dit voor die farao in die lug uitstrooi.

9. Dit sal soos fyn stof oor die hele Egipte versprei en rou sere aan mens en dier laat kom.”

10. Hulle het toe roet uit ’n oond gevat en na die farao toe gegaan. Terwyl die farao staan en kyk, het Moses dit in die lug gestrooi. Daar het rou sere op mens en dier begin uitbreek.

11. Die towenaars kon nie met Moses kragte meet nie omdat hulle self ook vol sere was.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 9