Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 6:6-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. “Daarom moet jy vir die Israeliete gaan sê: ‘Ek is die Here. Ek sal julle verlos van die slawewerk in Egipte. Ek sal julle bevry met krag en met sterk vergeldingsdade.

7. Ek maak julle my eie volk. Ek sal julle God wees. Julle sal weet dat dit Ek, die Here julle God, is wat julle van die slawewerk in Egipte bevry het.

8. Ek sal julle laat kom in die land wat Ek onder eed vir Abraham, Isak en Jakob belowe het. Dit sal julle eie land wees. Ek is die Here.’”

9. Moses het dit alles net so aan die Israeliete oorgedra. Omdat hulle moedeloos was oor die harde werk, wou hulle nie na Moses luister nie.

10. Die Here het toe vir Moses gesê:

11. “Gaan praat weer met die koning van Egipte dat hy die Israeliete uit sy land moet laat weggaan.”

12. “Maar, Here,” het Moses geprotesteer, “die Israeliete luister nie eers na my nie, hoe sal die farao dan na my luister? Ek struikel oor my woorde.”

13. Die Here het nogtans vir Moses en Aäron die opdrag gegee om terug te gaan na die farao, die koning van Egipte, toe en die Israeliete uit Egipte weg te lei.

14. Onder die nageslag van die stamme van Israel was daar die volgende: Die seuns van Ruben, die oudste seun van Israel, was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Hulle was die leiers van Ruben se nageslag.

15. Simeon se seuns was Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul (hy het ’n Kanaänitiese ma gehad). Hulle was die leiers van Simeon se nageslag.

16. Onder Levi se nakomelinge, in die volgorde van hulle familiegroepe, was Gerson, Kehat en Merari. (Hulle pa, Levi, het 137 jaar oud geword).

17. Gerson se seuns was Libni en Simi. Elkeen was die hoof van ’n stam.

18. Onder Kehat se nageslag was daar: Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. (Kehat het 133 jaar oud geword).

19. Merari se seuns was Magli en Musi. Al hierdie mense, wat volgens hulle afstamming opgenoem is, het aan Levi se stam behoort.

20. Amram het met sy tante Jogebed getrou. Hulle twee seuns was Aäron en Moses. (Amram het 137 jaar oud geword.)

Lees volledige hoofstuk Eksodus 6