Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 6:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe sê die Here vir Moses: “Nou gaan jy sien wat Ek met die farao gaan doen. Ek gaan hom dwing om my volk te laat gaan. Hy sal selfs by hulle aandring om pad te gee uit sy land.”

2. Die Here het verder vir Moses gesê: “Ek is die Here.

3. Ek het My aan Abraham, Isak en Jakob voorgestel as ‘God die Almagtige’. Hulle het My nie geken as ‘die Here’ nie.

4. Ek het met hulle ’n ooreenkoms gemaak om die land Kanaän, waarin hulle vir ’n tydjie oorgebly het, vir hulle te gee.

5. Jy kan verseker weet dat Ek gehoor het hoe die mense van Israel kla omdat hulle soos slawe vir die Egiptenaars werk. Ek het onthou van my ooreenkoms met hulle.

6. “Daarom moet jy vir die Israeliete gaan sê: ‘Ek is die Here. Ek sal julle verlos van die slawewerk in Egipte. Ek sal julle bevry met krag en met sterk vergeldingsdade.

7. Ek maak julle my eie volk. Ek sal julle God wees. Julle sal weet dat dit Ek, die Here julle God, is wat julle van die slawewerk in Egipte bevry het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 6