Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 5:13-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Die slawemeesters was hardhandig met hulle en het hulle beveel: “Julle moet net soveel stene lewer as vroeër toe die strooi vir julle voorsien is!”

14. Hulle het die Israelitiese opsigters geslaan en vir hulle gevra: “Hoekom het julle nie gister en vandag julle volle kwota stene gelewer nie?”

15. Die Israelitiese opsigters het toe met die farao gaan praat en hom gesoebat: “Moenie ons so behandel nie.

16. Ons kry nie meer strooi nie, maar ons moet nog steeds net soveel stene maak! Ons word geslaan terwyl die fout by u mense lê.”

17. Die farao het hulle geantwoord: “Julle het lui en laks geword. Dis hoekom julle kom vra om vir die Here te gaan offer.

18. Loop! Gaan terug na julle werk toe! Julle sal nie strooi kry nie. Sorg dat julle die volle kwota stene lewer.”

19. Omdat hulle steeds elke dag dieselfde hoeveelheid stene soos vantevore moes maak, het die Israelitiese opsigters gesien dat daar groot moeilikheid kom.

20. Toe hulle van die farao af weer buite kom, het Moses en Aäron daar vir hulle gestaan en wag.

21. Die opsigters sê vir hulle: “Die Here sien wat julle aangevang het. Hy sal julle straf vir die gemors waarin julle ons by die farao en sy mense laat beland het. Julle het hulle rede gegee om ons dood te maak.”

22. Moses het na die Here toe teruggegaan en by Hom gekla: “Here, hoekom maak U so lelik met u eie mense? Waarom het U my dan gestuur?

23. Vandat ek by die farao gekom het om vir hom te sê wat U van hom eis, het hy hierdie volk net al slegter behandel. U het nog nie ’n ding gedoen om u volk te red nie!”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 5