Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 4:7-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. “Sit nou weer jou hand onder jou klere in,” sê die Here vir hom. Toe hy sy hand uithaal, was dit so gesond soos die res van sy lyf.

8. “As die eerste teken hulle nie oortuig het om jou woord te glo nie, dan sal hierdie tweede een hulle oorreed,” het die Here gesê.

9. “As hulle ná hierdie twee tekens nog steeds nie oortuig is om jou woord te aanvaar nie, moet jy water uit die Nylrivier skep en dit op die grond uitgooi. Dit sal in bloed verander.”

10. Moses het by die Here gepleit: “Ag, Here,ek is nie goed met my mond nie. Ek was nog nooit iemand wat goed kon praat nie. Selfs waar U nou hier met my praat, haak my tong vas.”

11. “Wie gee vir die mens ’n mond?” vra die Here hom. “Wie maak mense stom of doof? Wie laat hulle sien of maak hulle blind? Is dit nie maar net Ek, die Here, nie?

12. Loop, gaan maak soos Ek vir jou sê! Ek sal jou goed laat praat en vir jou voorsê wat jy moet sê.”

13. Maar Moses het bly pleit: “Here, stuur asseblief tog iemand anders.”

14. Toe het die Here Hom vir Moses vererg. “Goed,” het Hy gesê. “Wat van jou broer, Aäron, uit die Leviete? Hy kan tog goed praat. Hy is alreeds op pad om jou te kom ontmoet. Hy gaan baie bly wees om jou weer te sien.

15. Jy sal vir hom voorsê wat om te sê. Ek sal julle help om te praat en vir julle sê wat moet gebeur.

16. Aäron sal namens jou met die volk praat. Hy sal jou mond wees. Jy sal soos God wees wat vir hom voorsê wat hy moet sê.

17. Maak seker dat jy jou herderstok by jou het sodat jy daarmee die tekens kan doen wat Ek jou geleer het.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 4