Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 32:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe die volk sien dat Moses lank wegbly en nie van die berg af kom nie, het hulle na Aäron toe gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Maak vir ons ’n god wat ons kan lei. Ons weet nie wat van hierdie man Moses geword het wat ons uit Egipte weggelei het nie.”

2. Aäron het toe vir hulle gesê: “Haal julle vroue en seuns en dogters se goue ringe van hulle ore af en bring dit hier vir my.”

3. Almal van die volk het toe die goue ringe afgehaal en dit vir Aäron gebring.

4. Aäron het dit by hulle gevat, dit gesmelt en daarvan ’n kalf gemaak wat uit goud gegiet is. Die volk sê toe: “Israel, hier is jou god wat jou uit Egipte bevry het!”

5. Toe Aäron dit sien, het hy ook ’n altaar voor die kalf gebou. Hy het aangekondig: “Ons hou môre ’n fees vir die Here!”

6. Van vroeg die volgende oggend af het hulle brandoffers en vrede-offers gebring. Die volk het geëet en gedrink. Dit het later begin hand uitruk.

7. Die Here het toe vir Moses gesê: “Klim dadelik van die berg af! Die volk wat jy uit Egipte bevry het, is besig om lelike dinge te doen.

8. Hulle het van die koers afgewyk wat Ek vir hulle gewys het. Hulle het vir hulle ’n kalf gemaak wat hulle aanbid en waarvoor hulle offer. Hulle sê daarvoor: ‘Hier is jou god wat jou uit Egipte bevry het, Israel!’”

9. Die Here sê toe vir Moses: “Ek het nou gesien dat hierdie volk hulle eie kop gaan volg.

10. Moenie My nou keer nie. Laat staan My dat Ek my woede op hulle kan uithaal en hulle uitwis. Ek sal eerder van jou ’n groot nasie maak.”

11. Maar Moses het by die Here gepleit om dit nie te doen nie. Hy het vir die Here gevra: “Here, waarom sal U nou u woede uithaal op u volk wat U met groot krag en sterk mag uit Egipte bevry het?

Lees volledige hoofstuk Eksodus 32