Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 29:26-45 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. Vat die borsstuk van die ram waarmee Aäron georden is en hou dit uit na die Here toe om dit aan Hom op te dra. Daarna mag jy dit vir jouself hou om te eet.

27. “Die heilige dele van die ram wat gebruik is om Aäron en sy seuns te orden, moet vir hulle eenkant gesit word. Dit is die borsstuk en die boud wat na die Here toe uitgesteek is en aan Hom opgedra is.

28. Voortaan sal hierdie dele na Aäron en sy afstammelinge gaan wanneer die mense van Israel ’n vrede-offer of dankoffer vir die Here bring.

29. “Aäron se spesiale klere moet ook gebruik word wanneer sy opvolgers in sy plek gesalf en in hulle amp bevestig word.

30. Die seun van Aäron wat hom opvolg, moet hierdie klere sewe dae lank aanhou wanneer hy in die tabernakel ingaan en in die heiligdom met sy werk begin.

31. “Vat die vleis van die ram wat tydens die bevestiging gebruik is en maak dit gaar by ’n plek wat daarvoor eenkant gesit is.

32. Aäron en sy seuns moet daar by die ingang van die tabernakel hierdie vleis en die brood wat in die mandjie oor is, eet.

33. Net hulle mag van die brood en vleis eet waarmee hulle tydens hulle bevestiging vir hulle versoening gedoen is. Die gewone mense mag glad nie daarvan eet nie omdat dit heilig is.

34. As daar die volgende môre nog van die gewyde vleis of brood oor is, moet dit heeltemal verbrand word. Dit mag nie geëet word nie, want dit is vir God eenkant gesit.

35. “Dit is hoe Ek jou beveel het jy Aäron en sy seuns in hulle werk moet bevestig. Die geleentheid hou sewe dae lank aan.

36. Jy moet elke dag ’n jong bul as sonde-offer bring met die oog op versoening. Bring ook ’n offer om die altaar te reinig. Gooi olie daaroor uit om dit aan die Here te wy.

37. Sewe dae lank moet jy elke dag ’n versoeningsoffer op die altaar bring. Die altaar sal dan uitsluitlik aan God gewy wees. Enigeen wat daaraan raak, sal vir God afgesonder wees.

38. “Dit is wat jy op die altaar moet offer: Offer elke dag twee jaaroud lammers op die altaar.

39. Offer die een in die oggend en die ander een teen die aand.

40. Saam met die lam in die oggend moet jy een en ’n half kilogram fynmeel offer. Dit moet gemeng word met een liter gesuiwerde olie en een liter wyn.

41. Die aandoffer word saam met meel, olie en wyn geoffer net soos dié van die oggend. Dit is ’n vuuroffer wat aangenaam is vir die Here.

42. “Van geslag tot geslag moet daar vir My elke dag ’n brandoffer by die ingang van die tabernakel gebring word. Daar sal Ek julle ontmoet en met julle praat.

43. Daar sal Ek die Israeliete ontmoet en Ek sal dit ’n heilige plek maak omdat Ek daar is.

44. Ek sal die tabernakel en sy altaar ’n heilige plek maak. Ek sal Aäron en sy seuns vir My heilig as my priesters.

45. Ek sal tussen die Israeliete woon. Ek sal hulle God wees.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 29