Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 23:19-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. “Julle moet die beste deel van die graan wat julle op die eerste dag oes, na die Here julle God se tempel toe bring. “Julle mag nie ’n bokkie in sy ma se melk kook nie.”

20. “Ek stuur ’n engel saam met julle om julle langs die pad te beskerm. Hy sal vir julle die pad wys na die plek wat Ek vir julle uithou.

21. Gee aandag aan hom en luister na wat hy sê. Moenie julle teen hom verset nie. Hy sal dit nie verdra as julle teen hom in opstand kom nie. Hy verteenwoordig My.

22. “As julle mooi na hom luister en presies doen wat Ek vir julle sê, sal Ek self julle vyande se teenstander wees. Ek sal My stel teenoor hulle wat teen julle is.

23. “My engel sal saam met julle gaan. Hy sal vir julle die pad wys na die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hewiete en die Jebusiete. Ek sal hulle uitwis.

24. Julle mag nie voor hulle gode kniel om hulle te aanbid nie. Julle moenie maak soos hulle nie. Julle moet hulle afgodsdiens met wortel en tak uitroei. Julle moet ook die klippilare waar hulle aanbid tot op die grond toe afbreek.

25. “Julle mag niemand anders as die Here julle God aanbid nie. Ek sal julle met kos en water en gesondheid seën.

26. In julle land sal kinders nie met geboorte sterf nie. Julle mense sal nie onvrugbaar wees nie. Ek sal julle lank en gelukkig laat lewe.

27. “Ek sal sorg dat die mense wie se land julle inneem vir julle bang word. Ek sal julle vyande voor julle laat vlug.

28. Ek sal perdebye voor julle uitstuur. Hulle sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor julle uitdryf.

29. “Ek sal dit egter nie alles in die eerste jaar laat gebeur nie. Die land sal dan verlate lê en die wilde diere sal dit oorneem.

30. “Ek sal hulle eerder stelselmatig voor julle uit verdryf. Soos julle al meer word, kan julle dan die land geleidelik oorneem.

31. “Ek sal die grense van julle land vasstel vanaf die Rietsee tot by die Middellandse See en vanaf die woestyn tot by die Eufraatrivier. Ek sal almal wat nou daar woon in julle mag gee. Julle sal hulle voor julle uit verdryf.

32. “Julle mag nooit met hulle enige ooreenkoms sluit nie. Julle mag niks met hulle gode te doen hê nie.

33. Hulle mag selfs nie eens langer tussen julle bly woon nie. As hulle langer daar bly woon, gaan dit vir julle ’n lokval wees. Hulle sal julle van My afrokkel en julle verlei om hulle gode te aanbid.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 23