Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 22:10-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. “Dit kan gebeur dat iemand sy donkie of sy bees of sy skaap of enige ander dier vir iemand gee om op te pas. Dit gaan dan dood of kry seer of verdwaal terwyl niemand by is om te sien wat gebeur het nie.

11. Die man wat die diere moes oppas, moet dan ’n verklaring aflê voor die Here dat dit nie hy was wat die diere iets laat oorkom het nie. Die eienaar moet dan sy woord aanvaar. Die oppasser hoef nie daarvoor te vergoed nie.

12. As ’n dief dit egter gesteel het terwyl dit in sy sorg was, moet hy daarvoor vergoed.

13. As ’n roofdier dit verskeur het, moet hy bewys bring dat dit verskeur is. Hy hoef dan nie te vergoed nie.

14. “Wanneer iemand ’n dier van iemand anders leen en dit kry seer of gaan dood en die eienaar was nie by nie, moet hy ten volle vergoed word.

15. As die eienaar wel by was, hoef hy nie vergoed te word nie. Die huurgeld moet steeds betaal word om die skade te dek.”

16. “As iemand ’n meisie wat nog nie verloof is nie, oorhaal om saam met hom te slaap, moet hy aan haar pa die gewone bruidsprys betaal en met haar trou.

17. As haar pa volstrek weier dat hy met haar kan trou, moet hy nogtans aan hom dieselfde bedrag betaal as wat ’n pa as bruidsprys vir sy dogter kan kry.

18. “’n Vrou wat toorkunste beoefen, mag nie bly lewe nie.

19. “Elkeen wat met ’n dier seks het, moet doodgemaak word.

20. “Iemand wat aan enige ander god as die Here offer, moet uit die weg geruim word.

21. “Moenie iemand wat van ’n ander land kom, verontreg nie. Julle mag hulle nie laat swaarkry nie, want julle was self vreemdelinge in Egipte.

22. “Julle mag nie weduwees en weeskinders uitbuit nie.

23. As julle hulle onregverdig behandel en hulle kom kla by My, sal Ek hulle kant vat.

24. My woede sal teen julle losbreek en Ek sal julle in die oorlog laat omkom. Julle vroue sal dan ook weduwees word en julle kinders sonder ouers.

25. “As julle geld uitleen aan die arm mense van die volk, moet julle nie maak soos die mense wat teen rente uitleen nie.

26. As jy iemand se klere as ’n pand neem vir dit wat hy leen, moet jy dit vir hom teen sononder teruggee.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 22