Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 21:6-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. As hy so maak, moet sy eienaar hom na God toe bring. Hy moet die slaaf na ’n deur vat en teen die deurkosyn ’n gat met ’n els in sy oor maak. Die slaaf sal dan vir altyd aan hom behoort.

7. “As iemand sy dogter as ’n slaaf verkoop, word sy nie soos die mans aan die einde van ses jaar vrygelaat nie.

8. As die persoon wat haar gekoop het nie met haar tevrede is nie, mag hy haar weer verkoop. Hy mag haar nie aan iemand van ’n ander volk verkoop nie. Dit kom neer op kontrakbreuk.

9. As die eienaar haar vir sy seun gee om mee te trou, moet hy haar behandel soos sy eie dogter.

10. As hy self met haar trou, mag hy nie haar kos of klere verminder of ophou om by haar te slaap wanneer hy daarna nog ’n ander vrou vat nie.

11. As hy enige van hierdie drie sake nalaat, moet sy vrygelaat word. Sy hoef hom dan niks te betaal nie.”

12. “As iemand ’n ander persoon so beseer dat hy daarvan sterf, moet hy self doodgemaak word.

13. As dit onopsetlik was, sal Ek vir hom ’n plek gee waarheen hy kan vlug.

14. As hy die persoon egter doelbewus aangeval het met die bedoeling om hom dood te maak, moet hy weggevat word om tereggestel te word, selfs al het hy by die altaar kom skuil.

15. “Enigeen wat sy pa of ma aanrand, moet doodgemaak word.

16. “Enigeen wat iemand ontvoer, moet doodgemaak word afgesien daarvan of hy hom klaar verkoop het en of die persoon nog by hom gekry word.

17. “Iemand wat sy pa of sy ma vloek, moet doodgemaak word.

18. “Tydens ’n stryery kan die een die ander een so met ’n klip of met sy vuis bydam dat hy wel nie daarvan doodgaan nie, maar tog in die bed beland.

19. As die beseerde persoon weer later kan opstaan en buite met ’n kruk rondloop, is die persoon wat hom aangeval het, onskuldig. Die persoon wat hom geslaan het, moet egter vergoed vir die tyd wat hy nie kon werk nie en vir hom sorg tot hy weer gesond is.

20. “As iemand sy manlike of vroulike slaaf so met ’n stok slaan dat die persoon daarvan doodgaan, moet die persoon gestraf word.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 21