Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 20:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het al die volgende voorskrifte gegee:

2. “Ek is die Here jou God. Dit is Ek wat jou bevry het uit Egipte waar jy ’n slaaf was.

3. “Jy mag nie nog ander gode buiten My aanbid nie.

4. “Jy mag nie vir jouself afgode maak wat soos voëls of diere of visse lyk nie.

5. Jy mag nie voor hulle kniel om hulle te aanbid nie. Ek, die Here jou God, is jou enigste God. Ek laat die oortredings van dié wat My haat nie ongestraf verbygaan nie. Ek straf die derde en die vierde geslag daarna vir die sondes wat hulle ouers gedoen het.

6. My liefde bly egter duisend geslagte lank staan vir almal wat My liefhet en aan My gehoorsaam is.

7. “Moenie die Naam van die Here jou God sonder rede gebruik nie. Die Here sal die een wat sy Naam sonder die nodige respek gebruik, nie net so sonder straf laat wegkom nie.

8. “Onthou om die Sabbatdag vir God te vier.

9. Ses dae lank kan jy met jou daaglikse werk aangaan.

10. Die sewende dag is die Here jou God se rusdag. Niemand in jou huis mag op daardie dag aangaan met gewone werk nie. Dit sluit in: jy, jou seuns en dogters, jou manlike en vroulike slawe, die vee wat aan jou behoort en alle buitelanders wat by jou oorbly.

11. Die Here het in ses dae die hemel, die aarde, die see en alles wat daarin is, gemaak. Op die sewende dag het Hy tot rus gekom. Om daardie rede het die Here die sewende dag geseën en vir Homself eenkant gesit as sy heilige dag.

12. “Behandel jou ouers met respek. Jy sal dan lank en gelukkig lewe in die land wat die Here vir jou gee om in te bly.

13. “Moenie mense doodmaak nie.

14. “Moenie egbreuk pleeg nie.

15. “Moenie iets steel nie.

16. “Moenie valse verklarings oor ander aflê nie.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 20