Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 14:23-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Die Egiptenaars is toe agter hulle aan met al die farao se perde en sy oorlogwaens en hulle bemanning, reguit die see in.

24. Vroegoggend het die Here van bo uit die wolk van vuur en uit die stapelwolk op die leër van die Egiptenaars afgekyk. Hy het verwarring onder hulle laat ontstaan.

25. Hy het die wiele van hulle oorlogwaens laat vasval sodat hulle nie kon beweeg nie. “Laat ons padgee van Israel!” het die Egiptenaars geskreeu. “Die Here veg in Israel se plek teen ons.”

26. Die Here het toe vir Moses gesê: “Steek weer jou hand uit oor die see. Die water sal terugstroom oor die Egiptenaars, oor hulle oorlogwaens en hulle bemanning.”

27. Terwyl die son besig was om op te kom het Moses sy hand oor die see uitgestrek. Die water het teruggestroom na sy ou plek toe. Die Egiptenaars het voor die water probeer vlug, maar die Here het hulle in die golwe laat verdrink.

28. Die water het oor die oorlogwaens gestroom en ook bo-oor die leër van die farao. Nie een van die Egiptenaars wat die Israeliete agternagesit het, het daardie dag weggekom nie.

29. Israel het egter op droë grond deur die middel van die see getrek, terwyl die water soos mure alkante van hulle gestaan het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 14