Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12:29-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. Teen middernag het die Here al die Egiptiese seuns wat eerste gebore is, laat sterf, vanaf die farao wat oor die land regeer se oudste seun tot by die oudste seun van die gevangene wat in die tronk sit. Selfs die vee wat eerste gebore is, het gevrek.

30. Die farao, sy amptenare en al die mense van Egipte het in die nag wakker geword en opgestaan. Deur die hele Egipte kon gehoor word hoe mense droewig huil. Daar was nie ’n enkele huis waarin daar nie iemand dood is nie.

31. Gedurende dieselfde nag nog het die farao Moses en Aäron laat roep. “Maak dat julle wegkom!” het hy geskreeu. “Julle en al die Israeliete moet padgee van my volk af. Gaan en dien die Here soos julle gevra het.

32. Vat julle skape en beeste saam met julle soos julle gevra het en maak dat julle wegkom! Onthou net om my te seën wanneer julle gaan!”

33. Die Egiptenaars het by die volk gesoebat om so gou moontlik uit die land pad te gee, want hulle het gedink: “Ons sal nog almal doodgaan!”

34. Die Israeliete het die brooddeeg waarin daar nie suurdeeg is nie, in broodpanne gesit, in klere toegedraai en dit op hulle skouers saamgevat.

35. Die Israeliete het gemaak soos Moses vir hulle gesê het. Hulle het die Egiptenaars gedwing om vir hulle goue en silwerjuweliersware en klere te gee.

36. Die Here het die Egiptenaars gewillig gemaak om vir die Israeliete alles te gee wat hulle van hulle geëis het. Israel het Egipte behoorlik geplunder.

37. Die Israeliete het begin loop van Rameses af na Sukkot toe. Buiten die vroue en kinders was daar sowat 600 000 mans.

38. Daar het ook baie mense saamgegaan wat nie Israeliete was nie. Hulle het ook troppe skape en bokke saam met hulle gehad.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 12