Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 10:10-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Die farao het geantwoord: “Die Here sal beslis eers vir julle moet help voordat ek julle met al julle afhanklikes net so sal laat gaan. Julle voer een of ander skelm plan in die mou.

11. Nee, net die mans mag gaan om tot die Here te bid. Dit is waarvoor julle gevra het.” Toe het die farao hulle weggejaag.

12. Maar die Here sê vir Moses: “Steek jou hand uit oor Egipte sodat die sprinkane oor die land kan kom. Hulle sal alles wegvreet wat na die haelstorm oorgebly het.”

13. Moses het sy stok oor Egipte uitgesteek. Die Here het die hele dag en ook deur die nag ’n oostewind laat waai. Toe dit oggend word, het die wind die sprinkane begin aanbring.

14. Die sprinkane het op die hele Egipte toegesak. Deur die hele land was dit net sprinkane. Nog nooit in Egipte se geskiedenis is so baie sprinkane gesien nie, ook nooit weer daarna nie.

15. Hulle was oor alles. Die grond was toe onder hulle. Hulle het al die plante en vrugte weggevreet wat na die haelstorm oorgebly het. Daar het nie ’n krieseltjie groenigheid oorgebly nie. Daar was nie ’n boom of ’n plant oor in die hele Egipte nie.

16. Die farao het Moses en Aäron toe dringend laat roep. “Ek het verkeerd gemaak met die Here julle God en met julle,” het hy vir hulle gesê.

17. “Vergewe my tog hierdie keer. Pleit tog by die Here julle God om hierdie dodelike ramp te laat ophou.”

18. Moses is weg van die farao af en het tot die Here gebid.

19. Die Here het die wind laat omswaai. Hy het ’n sterk wind uit die weste laat waai wat die sprinkane in die Rietsee ingewaai het. Daar het nie ’n enkele sprinkaan in die hele Egipte oorgebly nie.

20. Die Here het Farao egter weer hardkoppig laat word en hy het geweier om die Israeliete te laat gaan.

21. Die Here het toe vir Moses gesê: “Steek jou hand in die lug op. Dit sal stikdonker word oor die hele Egipte. ’n Mens sal amper daaraan kan vat.”

22. Moses het sy hand in die lug opgesteek. Dit was drie dae lank stikdonker in die hele Egipte.

23. Vir drie dae lank kon die mense mekaar nie sien nie en nie ’n voet versit nie. Waar die Israeliete gebly het, was dit egter helder sonskyn.

24. Die farao het Moses laat kom. “Loop en gaan aanbid die Here,” het hy gesê. “Net julle beeste en skape moet hier bly. Julle vroue en kinders kan maar saam met julle gaan.”

25. “U sal tog nie van u eie diere gee om vir die Here ons God te offer nie,” het Moses geantwoord.

26. “Al ons diere moet saam met ons gaan. Daar kan nie een agterbly nie. Uit hulle moet ons vir die Here offers bring. Ons kan ook nie voor die tyd weet watter offers ons daar gaan nodig kry nie.”

27. Die Here het die farao maar weer hardkoppig gemaak. Hy het steeds nie ingestem om hulle te laat gaan nie.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 10