Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 8:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Gehoorsaam stiptelik al die gebooie wat ek jou vandag gee. Jy sal dan lewe en baie word. Jy sal die land binnegaan wat Ek met ’n eed aan jou voorouers beloof het en dit in besit neem.

2. “Onthou die hele pad waarlangs die Here jou God jou 40 jaar lank deur die woestyn gelei het. Dit was om jou nederig te maak en jou te toets om te sien wat regtig in jou hart aangaan en of jy sy gebooie sal gehoorsaam.

3. Hy het jou nederig gemaak deur jou te laat honger ly. Hy het jou toe manna laat eet, kos wat jy en jou voorouers nie vroeër geken het nie. Hy het dit gedoen om jou te leer dat mense meer as brood nodig het om van te leef. Ware lewe vir die mens kom van elke woord uit die mond van die Here.

4. Jou klere het 40 jaar lank gehou en jou voete het nie blase gekry of geswel nie.

5. Jy moet diep in jou hart besef dat die Here jou God jou gedissiplineer net soos ’n ouer sy kind dissipline leer.

6. “Gehoorsaam die gebooie van die Here jou God deur op sy paaie te loop en Hom te eer,

7. want die Here jou God bring jou in ’n goeie land met waterstrome en poele water, met fonteine wat in die valleie en berge ontspring.

8. Dit is ’n land met koring en gars, wingerde, vyebome, granaatbome, olywe en heuning.

9. Dit is ’n land met ’n oorvloed van kos sonder enige gebrek. Dit is ’n land waar yster so algemeen soos klippe is en waar daar baie koper in die berge is.

10. Wanneer jy genoeg geëet het, dank dan die Here jou God wat hierdie goeie land vir jou gegee het.

11. “Maar pas op dat jy in jou oorvloed nie die Here jou God vergeet en ongehoorsaam raak aan sy gebooie, bepalings en voorskrifte nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 8