Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 30:5-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Hy sal jou terugbring na die land wat aan jou voorouers behoort het en jy sal weer die land besit. Hy sal jou selfs meer voorspoedig en talryker maak as wat jou voorouers was.

6. “Die Here jou God sal jou hart en die hart van jou nageslag besny sodat jy Hom met hart en siel sal liefhê. Dan sal jy lewe!

7. Die Here jou God sal al die vervloekings op jou vyande en jou vervolgers laat neerkom.

8. Dan sal julle weer die Here gehoorsaam en al die opdragte nakom wat ek jou vandag gee.

9. Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy doen. Hy sal vir jou baie kinders gee, jy sal baie diere hê en jou landerye sal oorvloedige oeste oplewer. Die Here sal Hom daarin verbly en jou voorspoedig maak soos met jou voorouers.

10. Dit sal gebeur as jy die Here jou God gehoorsaam, sy opdragte en voorskrifte nakom soos dit in die boek van die gebooie geskryf is, en as jy met hart en siel na die Here jou God terugkeer.”

11. “Hierdie gebod wat ek jou vandag gee, is nie te moeilik vir jou of buite jou bereik nie.

12. Dit is nie daarbo in die hemel dat jy nodig het om te vra: ‘Wie sal hemel toe opgaan en dit afbring sodat ons dit kan hoor en daarvolgens lewe?’ nie.

13. Dit is ook nie ver aan die ander kant van die see, dat jy moet vra: ‘Wie sal die see oorsteek om dit vir ons te bring sodat ons dit kan hoor en daarvolgens lewe?’ nie.

14. Die boodskap is baie naby aan jou, dit is op jou lippe en in jou hart sodat jy daarvolgens kan lewe.

15. “Luister nou! Vandag gee ek vir julle ’n keuse tussen voorspoed en teëspoed, lewe en dood.

16. Ek beveel jou vandag om die Here jou God lief te hê en om sy opdragte, voorskrifte en reglemente na te kom deur in sy weë te wandel. As jy dit doen, sal jy lewe en ’n groot nasie word. Die Here jou God sal jou en die land seën wat jy op die punt is om in besit te neem.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 30