Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 30:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “As al hierdie dinge met jou gebeur het, die seën en vervloeking wat ek aan jou voorhou, dink daaroor na wanneer jy tussen die vreemde nasies moet leef waarheen die Here jou God jou in ballingskap weggevoer het.

2. As jy dan na die Here jou God terugkeer en jy en jou kinders begin weer om van harte gehoorsaam te wees aan die gebooie wat ek jou vandag gee,

3. sal die Here jou God jou situasie verander. Hy sal jou genadig wees en jou terugbring uit al die nasies waarheen Hy jou verstrooi het.

4. Selfs al was jy tot aan die uithoeke van die aarde verstrooi, sal die Here jou God jou daar bymekaarmaak en jou weer terugbring.

5. Hy sal jou terugbring na die land wat aan jou voorouers behoort het en jy sal weer die land besit. Hy sal jou selfs meer voorspoedig en talryker maak as wat jou voorouers was.

6. “Die Here jou God sal jou hart en die hart van jou nageslag besny sodat jy Hom met hart en siel sal liefhê. Dan sal jy lewe!

7. Die Here jou God sal al die vervloekings op jou vyande en jou vervolgers laat neerkom.

8. Dan sal julle weer die Here gehoorsaam en al die opdragte nakom wat ek jou vandag gee.

9. Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy doen. Hy sal vir jou baie kinders gee, jy sal baie diere hê en jou landerye sal oorvloedige oeste oplewer. Die Here sal Hom daarin verbly en jou voorspoedig maak soos met jou voorouers.

10. Dit sal gebeur as jy die Here jou God gehoorsaam, sy opdragte en voorskrifte nakom soos dit in die boek van die gebooie geskryf is, en as jy met hart en siel na die Here jou God terugkeer.”

11. “Hierdie gebod wat ek jou vandag gee, is nie te moeilik vir jou of buite jou bereik nie.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 30