Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 3:10-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Ons het al die stede op die Hoogvlakte verower en ook die hele Gilead en Basan so ver as Salka en Edreï, stede wat deel was van Og se ryk in Basan.

11. (Koning Og van Basan was die laaste van die reuse Refaïete. Sy ysterbed was meer as vier meter lank en byna twee meter breed. Dit kan nog steeds in die Ammonitiese stad Rabba gesien word.)”

12. “Van die land wat ons verower het, het ek vir die stamme Ruben en Gad die gebied anderkant Aroër langs die Arnonkloof, asook die helfte van die bergwêreld van Gilead met sy stede, gegee.

13. Die res van Gilead en die hele Basan – Og se voormalige koninkryk – het ek aan die halwe stam van Manasse gegee. (Die Argobgebied van Basan was voorheen bekend as die land van die Refaïete.

14. Jair, ’n leier uit die stam van Manasse, het die hele Argobgebied in Basan tot by die grens van Gesur en Maäkat gevat. Jair het die gebied na homself vernoem en dit die Dorpe van Jair genoem soos wat dit vandag nog bekend is.)

15. Gilead het ek vir Makir gegee.

16. Ek het die gebied van Gilead af tot by die middel van die Arnonkloof en van daar na die Jabbokrivier op die grens van die Ammoniete vir die stamme Ruben en Gad gegee.

17. Hulle het ook die Jordaanvallei met die Jordaanrivier en sy oostelike oewer van die See van Galilea af tot by die Dooie See met die Pisgahange aan die oostekant, gekry.”

18. “Gedurende dié tyd het ek hierdie opdrag gegee aan die stamme wat aan die oostekant van die Jordaan sou bly: ‘Al het die Here julle God hierdie land vir julle as julle eiendom gegee, moet al julle weerbare mans die Jordaan gewapen en gereed oorsteek, voor julle mede-Israeliete uit.

19. Julle vroue, kinders en julle baie diere mag agterbly in die stede wat ek aan julle gegee het.

20. Nadat die Here veiligheid aan die res van die Israeliete gegee het, soos wat Hy reeds aan julle gegee het, en wanneer hulle die land wat die Here julle God aan hulle oorkant die Jordaan gee, in besit geneem het, mag julle terugkeer na die land wat Ek aan julle gegee het.’”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 3