Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 3:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Daarna het ons afgedraai na die land Basan toe. Daar het koning Og en sy leër ons by Edreï aangeval.

2. Die Here het egter vir my gesê: ‘Moenie vir hom bang wees nie. Ek gee aan julle die oorwinning oor Og en sy leër. Ek gee ook sy hele land aan julle. Maak met hom net soos julle gemaak het met koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon regeer het.’

3. So het die Here ons God vir koning Og en sy hele volk aan ons oorgegee en ons het hulle almal doodgemaak.

4. Ons het al 60 van sy stede verower, die hele Argobstreek in sy koninkryk van Basan.

5. Al hierdie stede was versterk met hoë mure rondom en poorte met sluitbalke. Ons het terselfdertyd ook baie van die stede sonder mure ingeneem.

6. Ons het die koninkryk van Basan totaal verdelg, net soos wat ons koning Sihon van Gesbon vernietig het. Ons het al die inwoners, mans, vroue en kinders, uitgewis in elke stad wat ons verower het.

7. Ons het die diere vir onsself gehou en ook die buit van die stede wat ons geplunder het.

8. “Ons het die land van twee Ammoritiese konings oos van die Jordaanrivier van die Arnonkloof tot by Hermonberg in besit geneem.

9. (Die Sidoniete het die Hermonberg die Sirjon genoem, en die Amoriete Senir.)

10. Ons het al die stede op die Hoogvlakte verower en ook die hele Gilead en Basan so ver as Salka en Edreï, stede wat deel was van Og se ryk in Basan.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 3