Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:13-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. As jy luister na hierdie opdragte van die Here jou God wat ek vir jou gee en dit noukeurig nakom, sal die Here jou die kop maak en nie die stert nie. Jy sal altyd die leiding neem.

14. Moenie links of regs afwyk van enige van hierdie opdragte wat ek jou vandag gee deur ander gode na te volg en hulle te aanbid nie.”

15. “As jy weier om na die Here jou God te luister en nie gehoorsaam is aan al die opdragte en voorskrifte wat ek vandag vir jou gee nie, sal al die volgende vervloeking oor jou kom en jou oorweldig:

16. “Vervloek is jy in jou stede en vervloek is jy in die oop veld.

17. Vervloek is jy met leë mandjies sonder enige vrugte en met knieskottels sonder brood.

18. Vervloek is jy met min kindersen kaal landerye. Vervloek is jy met onvrugbare beeste en kleinvee.

19. Vervloek is jy waar jy ook al is, of jy nou kom of gaan.

20. “Die Here self sal vervloeking, verwarring en straf bring oor alles wat jy doen, totdat jy uiteindelik heeltemal vernietig is oor al die slegte dinge wat jy gedoen het en omdat jy Hom verlaat het.

21. Die Here sal siektes julle laat aantas totdat daar niemand oorbly nie in die land wat julle binnetrek om in besit te neem.

22. Die Here sal julle met tering, koors en inflammasie tref, met skroeiende hitte en droogte, met brandkoring en roes. Hierdie verskriklike dinge sal jou agtervolg totdat jy sterf.

23. Die blou lug bokant jou sal brons word en die aarde onder jou so hard soos yster.

24. Die Here sal jou reën in sand en stof verander en dit sal uit die lug op jou neersak en jou verswelg.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28