Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 24:13-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Gee die kleed teen sononder vir hom terug sodat jou naaste daaronder kan slaap. Dan sal hy jou seën en die Here jou God sal dit as ’n regverdige daad beskou.

14. “Jy moet nooit onbillike voordeel trek uit arm arbeiders nie, nie as hulle mede-Israeliete is nie en ook nie as hulle vreemdelinge is wat in jou dorpe woon nie.

15. Betaal hulle hulle loon elke dag voor sononder, want hulle is arm en reken op die geld. Andersins mag hulle by die Here gaan kla en sal dit as sonde teen jou gereken word.

16. “Ouers mag nie doodgemaak word vir die sonde van hulle kinders nie en kinders mag nie doodgemaak word vir die sonde van hulle ouers nie. Wie die doodstraf moet kry, kry dit net vir sy eie misdade.

17. “Sorg dat daar geregtigheid geskied aan die vreemdelinge wat tussen julle woon en ook aan weeskinders. Jy mag nooit ’n weduwee se kleed as pand aanvaar nie.

18. Onthou altyd dat julle slawe in Egipte was en dat die Here julle God julle van daar vrygekoop het. Dit is waarom ek hierdie gebod aan julle gee.

19. “Wanneer jy jou oes inbring en jy vergeet ’n gerf op die land, moenie omdraai en dit gaan haal nie. Laat dit daar vir die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees. Dan sal die Here jou God jou seën in alles wat jy doen.

20. Wanneer jy olywe afslaan van jou olyfbome, moenie dit vir ’n tweede keer doen nie. Laat daar olywe oorbly vir die vreemdelinge, weeskinders en weduwees.

21. Dit is ook van toepassing op die druiwe in die wingerd. Moenie weer gaan druiwe afoes nadat hulle die eerste keer gepluk is nie. Laat daar van die druiwe vir die vreemdelinge, weeskinders en weduwees oorbly.

22. Hou in gedagte dat julle slawe in Egipte was. Dit is waarom ek jou hierdie gebod gee.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 24