Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 22:9-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. “Moenie ander saad tussen die rye van jou wingerd plant nie. As jy dit doen, mag jy nie die druiwe van die wingerd of die opbrengs van daardie saad gebruik nie.

10. “Moenie ploeg met ’n bees en donkie wat jy saam ingespan het nie.

11. “Moenie klere dra wat gemaak is van wol wat saam met linne geweef is nie.

12. “Jy moet tossels aanwerk op die vier hoeke van die mantels wat jy dra.”

13. “Dit kan gebeur dat ’n man met ’n vrou trou en nadat hy by haar geslaap het, besluit dat hy nie meer van haar hou nie

14. en haar valslik beskuldig dat sy haar wangedra het. Hy kan sê: ‘Ek het ontdek dat sy nie ’n maagd was toe ek met haar getrou het nie.’

15. As die man dit doen, moet die vrou se pa en ma die bewys van haar maagdelikheid na die leiers van die dorp bring.

16. Haar pa moet vir hulle sê: ‘Ek het my dogter aan hierdie man as sy vrou gegee en nou het hy teen haar gedraai.

17. Hy beskuldig haar van skandelike gedrag deur te sê dat sy nie ’n maagd was toe hy met haar getrou het nie. Maar hier is die bewys van my dogter se maagdelikheid.’ Dan moet hulle die beddegoed voor die regters uitsprei.

18. Dan moet die regters die man straf.

19. Hulle moet hom ook met 100 stukke silwer beboet omdat hy ’n maagd van Israel valslik beskuldig het. Die betaling moet aan die vrou se pa gemaak word. Die vrou sal dan die vrou van die man bly en hy mag nooit van haar skei nie.

20. “Maar indien die man se beskuldiging waar is en die vrou se maagdelikheid nie bewys kan word nie,

21. moet die regters die vrou na die deur van haar pa se huis bring en die mans van die dorp moet haar daar met klippe doodgooi. Sy het ’n skandelike daad in Israel gepleeg deur losbandig te leef terwyl sy nog by haar ouers gewoon het. So moet julle hierdie soort kwaad onder julle uitroei.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 22