Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 17:6-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Jy mag nooit iemand op grond van die getuienis van net een persoon ter dood veroordeel nie. Daar moet altyd minstens twee of drie getuies wees.

7. Die getuies moet die eerste klippe gooi, daarna sal die res van die volk volg. So moet jy die kwaad uit jou midde uitroei.

8. “Dit kan gebeur dat ’n saak in ’n plaaslike hof vir jou te moeilik is om oor uitspraak te gee, soos oor moord, of ’n siviele saak, of oor aanranding. In so ’n geval moet jy na die plek gaan wat die Here jou God sal uitkies.

9. Hou dan die saak aan die Levitiese priesters voor of die regter aan diens. Hulle sal uitspraak lewer.

10. Tree volgens hulle beslissing daar op by die plek wat die Here sal kies. Doen presies wat hulle sê.

11. Nadat hulle die wet geïnterpreteer het en oor ’n vonnis besluit het, moet die vonnis wat hulle oplê ten volle uitgevoer word sonder om enigiets daaraan te verander.

12. Enigeen wat so arrogant is om die vonnis te verwerp van die regter of priester wat die Here jou God verteenwoordig, moet doodgemaak word. So moet jy dié soort kwaad in Israel uitroei.

13. Die hele volk sal dit hoor en bang word om ook so arrogant op te tree.”

14. “Julle sal binnekort in die land aankom wat die Here julle God vir julle gee. Julle sal dit inneem en daar gaan woon. Julle kan dan begin dink: ‘Ons behoort ook ’n koning te hê soos die ander volke rondom ons.’

15. Stel dan tog ’n koning aan vir wie die Here jou God kies. Stel ’n mede-Israeliet aan en nie ’n vreemdeling nie.

16. Die koning mag nie baie perde aanhou nie. Hy mag ook nooit sy volk na Egipte toe stuur om daar perde te gaan koop nie, want die Here het gesê: ‘Julle mag nooit na Egipte toe teruggaan nie.’

17. Die koning mag nie baie vroue hê nie, want hulle sal hom tot ontrouheid aan die Here verlei. Hy mag ook nie groot hoeveelhede silwer en goud vir homself bymekaarmaak nie.

18. “Wanneer hy as koning op die troon sit, moet hy ’n afskrif van die gebooie in die teenwoordigheid van die Levitiese priesters in ’n boekrol laat skryf.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 17